Ons dakprojek ‘n reusesukses!

Op Saterdag 8 November 2014 het die APK Pretoria-Oos sy 27ste bestaansjaar gevier. Die tema “Dankbaarheid” was sentraal tot die verjaarsdagvieringe waar die gemeente met dankbare harte teruggekyk het op meer as twee en ‘n half dekades van seën en genade wat ons uit sy Vaderhand ontvang het.

Die feesvieringe het op Saterdag 8 November afgeskop met ‘n Karnivoorfees waarmee die gemeente se Tiendemaand-dankofferprojek afgesluit is. Hierdie jaar was die Tiendemaand-dankoffer vir ons kerk se dakprojek gereserveer waarvoor R150 000,00 vir herstelwerk ingesamel moes word.

Die Karnivoorfees het bestaan uit ‘n uithaler-ete wat onder andere drie vleisgeregte ingesluit het. Teen R100,00 vir volwassenes en R50,00 vir laerskoolkinders was hierdie koningsmaal waarde vir geld waarmee selfs die voorste fynproewer-restourante moeilik sou kon meeding.

Die wenkombinasie van ‘n keurige maaltyd en goeie geselskap het hierdie geleentheid die hoogtepunt op die gemeente se kalender van sosiale funksies vir 2014 gemaak!

Uit die Tiendemaand-dankofferprojek en die Karnivoorfees is ‘n bedrag van R117 150,00 ingesamel – in ‘n rekordtyd van slegs drie weke! Met hierdie onverdiende genade uit die hand van ons Hemelvader kon die gemeente die feesvieringe op Sondag 9 November met groot dankbaarheid voortsit.

Dit was egter nie net die seën en voorspoed op finansiële gebied en soveel ander terreine van gemeentesake wat ons met dankbaarheid vervul het nie, maar die grootste geskenk wat ons bo alles uit sy Vaderhand ontvang het: die genade van verlossing van ons sondeskuld.

Ons kyk met dankbaarheid terug op ‘n stampvol 27 jaar en met hoop in ons harte reik ons na 2015.

Jou e-posadres sal nie bekend gemaak word nie. Vereiste velde gemerk *

*