Die Lyding van JESUS CHRISTUS

1 Petrus 2 en 3

Ons bely elke Sondag: “Ek glo in Jesus Christus… wat gely het.” Maar wat beteken dit dat Jesus Christus gely het? Dit is ‘n klein woordjie wat ‘n wêreld van betekenis omvat. Aan die hand van drie kort gedagtes sal dit duidelik word wat dit vir ons beteken dat Jesus gely het.

Die oorsaak van sy lyding

Waarom moes Christus ly? Het Hy dit verdien? Ons ondervinding is immers dat iemand gestraf word volgens wat hy verdien. Maar Christus het dit nie verdien nie. Hy ly onverdiend en onskuldig. Dit word deur Petrus benadruk: Christus, die Regverdige, het vir die onregverdiges gely.

Die Bybel noem Hom die Regverdige. En dit was Hy inderdaad. Ons word in sonde ontvang en gebore; Hy is van die Heilige Gees ontvang, volkome vry van erfskuld en erfsmet.

Petrus ag dit nodig om juis in die teksverband daaraan te herinner dat Hy geen sonde gedoen het nie, en dat daar in sy mond geen bedrog gevind is nie (1 Pet. 2:22). As Hy gestraf word, as Hy ly, moet die oorsaak daarvan nie in Hom gesoek word nie. Hy het “die toorn van God teen die sonde van die ganse menslike geslag gedra”.

Hy is onskuldig tot die dood veroordeel, sodat ons voor God vrygespreek kan word. Jesaja skryf:

“Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jes. 53:5).

Die oorsaak was sonde – jou sonde en my sonde.

Ons kan eintlik sê: Dit is nie die Jode
wat U gekruisig het nie, Here Jesus, ek het dit gedoen.”

By die kruis van Christus leer ons wat sonde in die oë van God is. Eerder as om die sonde ongestraf te laat bly, het Hy dit in die Seun van sy liefde met die bittere en smadelike dood van die kruis gestraf. By Sinaï het die volk in die donderslae gehoor wat sonde in die oë van God is; by Golgota het hulle dit in die doodsnood van sy Seun gesien.

Maar hier bly die liefde ook nie agterweë nie. Al kos dit Hom sy Seun, en al bring dit vir Christus die dood mee, Hy is daartoe bereid ter wille van die redding van ‘n verloregaande wêreld.

Die oorsaak van sy lyding

Petrus wys op Christus wat ‘eenmaal’ gely het. Dit dui op ‘n volkome, eenmalige en afdoende handeling wat nie herhaal of aangevul hoef te word nie.

Dit was verder ook ‘n besonder gekonsentreerde lyding. Hy het ”die toorn van God teen die sonde van die ganse menslike geslag” gedra. Christus het die toorn van God oor die sonde van ‘n ganse menslike geslag gedra. Wie sal ooit kan bereken wat hierdie woorde werklik inhou? As ons dan aan hierdie sy van sy leiding dink, het Hy by geleentheid aan sy dissipels gevra: “Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink…?” (Matt. 20:22). Dit was so ‘n unieke beker, so ‘n gekonsentreerde lyding.

Ons word deur die kategismus daarop gewys dat Hy na liggaam en siel gely het. Die klem val op sy liggaamlike lyding. En dit was inderdaad hewig, swaar, en groot. Hy is gegesel; Hy het vuisslae in sy gesig ontvang; soos Matteus 27:67 en 68 dit beskryf: “Toe het hulle in sy aangesig gespuug en Hom met die vuis geslaan, en ander het Hom met stokke geslaan…” Hy het die doringkroon gedra. Die kruisdood op sigself was die smartlikste denkbaar. Maar erger nog was sy sielelyding: die aanraking met sonde en haat in hierdie wêreld; die ervaring van vernedering, verguising, smaad en onreg; die angs en benoudheid in die aangesig van die dood; bo dit alles die ontsettende gevoel van verlatenheid toe Hy aan die kruis met ‘n groot stem uitgeroep het:

“My God, my God, waarom het U my verlaat?” (Matt. 27:46).

Sy lyding na die liggaam was een tot die dood toe, dié na die siel was een tot die hel toe. Daar is nie ‘n gelyke nie.

Daar is min van ons wat nie ook in een of ander opsig ly nie. Maar, soos die sterre verbleek en verdwyn voor die opgaande son, so verdwyn óns leed in die lig van sý leed. Petrus wil juis ook hierdie uitwerking by sy lesers sien. Hy neem kennis van hul verdrukking; hy maak melding van mense wat leed moet verdra deur onregverdig te ly. Te midde daarvan wys hy hulle op die grootste van alle lyers: “Want Christus het ook eenmaal…gely…” En omdat Hy só gely het, kan ons ook op die lydenspad sy voetstappe navolg.

Christus het gely, skryf Petrus, “om ons tot God te bring”. “Want julle was soos dwalende skape.” gaan hy verder,

“maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Opsiener van julle siele” (1 Pet. 2:25).

Ver van God, weg van God – dit beskryf die noodtoestand waarin die sondaar verkeer. Hy is sonder God en sonder hoop in die wêreld. Maar Jesus Christus het gekom om dié ongelukkige stand van sake te verander. Hy het die middelmuur van skeiding deurgebreek sodat ons wat vroeër ver was naby kon kom deur die bloed van Christus (Ef. 2:13-14).

Toe Hy op Golgota gesterf het, het die voorhangsel van die tempel van bo na onder geskeur. Daar het vir die sondaar ‘n vrye toegang gekom. Hy het gely om jou en my – in die versoening deur sy bloed – tot God te bring. Ons moet Jesus Christus aanvaar as ons verlosser en Saligmaker en glo dat Hy gesterf het sodat ons kan lewe. Weet dat Hy jou liefhet en dat hy bloed gesweet het sodat jy nader aan God kan wees. En dit is hoekom Christus moes ly. Nie vir Homself nie, nie omdat Hy wou nie, maar om ons met God te versoen. Om vir ons, sondaarmens, redding te bring.

– Ds. Hendrik du Plessis

boodskapper-lyding

Jou e-posadres sal nie bekend gemaak word nie. Vereiste velde gemerk *

*