Die Suiwere bediening van die Sakramente is een van die drie kentekens van ’n ware kerk.
Die Ouderlinge, as opsieners en rentmeesters van God, het die opdrag en verantwoordelikheid om oor die gemeente en oor die heiligheid van die sakramente te waak sodat die toorn van God nie oor die gemeente verwek word nie – HK Vr. en antw. 81–82.

Die ouderlingeraad het die volgende prosedure vasgestel vir die aansoek en goedkeuring om die sakramente te gebruik.

Nagmaal

Besoekers aan AP Kerk Pretoria-Oos, moet vir elke Nagmaal vooraf aansoek doen om nagmaal te gebruik.

  • Deeglike getuienis oor ’n lewende verhouding met Jesus Christus en die leer en lewenswandel van die aansoeker moet gegee word.
  • Slegs persone wat die klassieke gereformeerde belydenis van harte aanvaar, sal toegang tot die nagmaal ontvang. Iemand wat die Roomse of Charismatiese tradisie handhaaf, het ’n ander leer oor Christus en verlossing.
  • ’n Gereformeerde kerk (die tradisionele susterskerke) se lidmaatskap is nie meer ’n outomatiese goedkeuring nie weens dwaalleer wat in sodanige kerke voorkom. Iemand wat ’n afwykende Skrifbeskouing handhaaf kan ook nie tot die nagmaal toegelaat word nie. Aansoekers sal oor hierdie sake uitgevra word.
  • Persone wat nog nie belydenis van geloof afgelê het nie (en kinders), word nie toegelaat om Nagmaal te gebruik nie.
  • Aansoek om goedkeuring moet 48 uur voor nagmaal by die wyksouderling of die leraar ingedien word vir goedkeuring, geen aansoeke sal later as dit aanvaar word nie.
  • ’n Aansoeker moet kontakbesonderhede van sy tuisgemeente (ouderling en/of leraar) kan verskaf sodat navraag gedoen kan word waar die ouderlinge of lidmate van ons gemeente iemand nie persoonlik ken en van hulle geloof kan getuig nie.
  • Indien goedkeuring nie verleen word nie sal die aansoeker ingelig word voor die diens begin.
  • Elke belydende lidmaat wat die nagmaal gebruik moet sorg dra om dit nie tot sy/haar eie oordeel te misbruik nie.

Doop

Spesiale doop geleenthede sal op ad hoc basis deur die Ouderlingeraad oorweeg word maar ten minste een maand moet gegun word om die besluit deeglik te oorweeg.

Voornemende doopouers moet ten minste een maand VOOR die doopgeleentheid beplan word, ’n doopgesprek aanvra deur die kantoor, wyksouderling of die Leraar te kontak.

Die wyksouderling en die leraar sal die doopgesprek voer met die voornemende doopouers.

Na die doopgesprek sal die ouderlingeraad oorweging skenk aan die terugvoer van die betrokke ouderling en leraar, en slegs indien goedkeuring verleen is vir die doop om voort te gaan, kan die datum met die leraar en die kantoor daarna bepaal word.